13 Januarie 2013

Hierdie week se liturgie: 13_januarie_2013

Die week wat verby is, was gelaai met uiteenlopende emosies om my seun te gaan aflaai. Daar was die spanning oor die rit vanaf Kaapstad na Bloemfontein en terug omdat ons paaie hierdie vakansie weereens bewys het hoe uiters gevaarlik dit op ons paaie is. Daar was die onsekerheid oor die jaar wat voorlê en die hartseer om te moet groet en dan weer die stresvolle roete suid aan te pak op ʼn pad wat nie net gevaarlik is nie maar vanweë die stakers en klipgooiers op die N1 ʼn ompad via Ceres moes vat waar daar ʼn verdere ompad gery moes word op ʼn slegte plaasgrondpad omdat daar ook op die R46 stakers was. Met tye was die stof so dik as gevolg van die groot vragmotors dat ek nie die voorpunt van my motor kon sien nie en net moes vertrou dat die motor voor my ook stadig vorentoe beweeg omdat mens nie self kon stop nie uit vrees vir die motor of vragmotor agter jou.

Maar dit was die gasvryheid en liefde van ons gasheer en gasvrou in Bloemfontein wat my die heeltyd bybly. Die onbaatsugtig omgee en milddadige toegeneentheid van Marieta en Wimpy Koch wat die laaste jaar as ouers van seuns wat op Grey is en was hul ontferm het oor ons seun en my opnuut laat besef het dat ons net kan gee wat ons het en net kan hê wat ons gee. Hierdie twee mense is in elke opsig ʼn voorbeeld daarvan en het my skaam laat voel omdat hulle liefdevol in oorvloed gee sonder om enige iets terug te verwag.

Soos ʼn mens ry en die kilometers aftel en jou verwonder oor ons mooi land se landskappe wat verander van Vrystaat na Noord-Kaap na Karoo en dan uiteindelik die berge van Wes-Kaap gaan daar baie gedagte deur ʼn mens se kop: jy dink oor hierdie pad wat ʼn paar dae vantevore in die teenoorgestelde rigting jou na ʼn bestemming geneem het sonder dat ʼn mens weet wat voorlê ... jy sien die borde van afdraaipaadjies na plekke wat jy nie ken nie en snel verby op pad huis toe. Mens wonder waar almal vandaan kom ... die enorme trokke met vragte vol goedere êrens heen op pad en hul bestuurders wat vir jou plek maak om verby te gaan. Jy sit jou noodligte aan om dankie te sê en snel voort met gedagtes van dankbaarheid dat alles goedgegaan het die week en dat ons seun met trots en opgewondenheid sy eie lewenspad se voetspore gaan trap. Jy dink aan almal vir wie jy lief is en stuur gedagte en seënbedes van dankbaarheid soos jy rapporteer oor waar jy is.

In die kamer waarin ek geslaap het die week staan daar teen die muur die volgende: Geloof is die uitdaging om die siel te laat gaan waar die oë nie kan sien nie. Elke keer wat ek op die bed gelê het om dagboek op te vang, het my oë die woorde gevang om dit op my tong te rol en oor die oppervlakte van die bladsye te laat wip-wip. Uiteraard lê die spasies tussen woorde gelaai van die emosies van die laaste jaar wat opnuut van die intellek weer siel gemaak het. Die uitdagings vir die jaar wat voorlê en die lewenspaaie wat die oë nie nou sien nie maar die onwrikbare geloof om te weet dat die pad wat ons gevat het, sal ons veilig na ons bestemming bring.

PAAIE NA BESTEMMINGS:
         Waarvandaan kom ons? 
         Waarheen is ons op pad?
         Waarom kies ons dié pad?
         Weet ons dis bestemming?

Ons het laas week gesels oor ʼn Spirituele EKG vir die jaar wat voorlê en eerskomende Sondag praat ons oor ʼn Spirituele GPS vir dié jaar se lewenspaaie.
Ons vra dikwels: Wat is die regte pad om te vat? Hoe weet ons dat dit die regte besluit was om te neem en as dit nie is, hoe dan gemaak?
Daar is verskeie paaie na ons plek van aanbidding eerskomende Sondag.
Sien uit om ʼn uur saam met jou te reis.

Gedagte vir die Week:
Twee seilskepe vaar uit die hawe. Die een gaan wes en die ander oos. Dit is nie die rigting van die wind wat sal bepaal of hulle hul bestemming bereik nie maar die manier waarop hulle hul seile span.

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights