12 Junie 2016

Liturgie: 12_junie_2016

In ons gesprek oor vier karakters in die Bybel gaan ons eerskomende Sondag stilstaan by die lewe van Dawid. Wie was hierdie man en wat is die agtergrond en konteks van sy lewe? Hier is ʼn voorsmakie ... die tyd van Abraham is ± 2000BC; Moses is ± 1500BC en Dawid is ± 1000BC. Ons praat van 500 jaar tussen elkeen. Dink daaraan dat dit ʼn skrale 364 jaar is sedert Jan van Riebeeck tot vandag en hoe die wêreld verander het die laaste 364 jaar. Des te meer as jy dink aan ʼn antieke beskawing van sowat 3000 jaar gelede. Die naam Dawid beteken ‘geliefde’ en op sy graf staan die woorde: Die Geliefde van God (Amadeus). Wat is dit aan hierdie man, wat in my beskeie opinie niks anders was as ʼn huursoldaat op steroïde, dat hy tot vandag onder Jode bekendstaan as, ‘Dawid, die koning van Israel vir ewig’ ... as jy daaraan dink dat hy seker die swakste voorbeeld was as eggenoot vir die verskeie vroue wat hy gehad het; die swakste van pa’s wat selfs opdrag gegee het dat een van sy seuns vermoor moes word; en direk en indirek verantwoordelik was vir duisende mense se dood; om nie te praat van sy magsbeheptheid en slu ambisie waarmee hy Israel met ʼn ystervuis sou regeer nie ... en steeds, ten spyte van, desondanks, nieteenstaande — The Beloved of God!

Om Dawid te verstaan moet mens begin by die begin. As ʼn jong seun vat hy vir sy broers kos na die slagveld waar hul teen die Filistyne veg. Met Goliat wat die spot dryf met die Israeliete kom Dawid te hore van die ‘prys’ dat die ou wat die reus doodmaak, sal baie ryk gemaak word en die dogter van koning Saul kry as vrou en sy familie sal van alle verpligtinge teenoor die staat vrygestel word (1 Samuel 17:25). Drie keer vra Dawid of dit werklik so is. Drie keer word dit bevestig. Dan vind die insident plaas waar hy Goliat dood ... ʼn storie met ʼn vreemde nadraai as mens bewus is van die kontradiksies in die verhaal. Miskien het die skrywers van die boek Samuel en die outeurs van die boek Kronieke, wat eeue ná Dawid en eeue uitmekaar geskryf is, nie voorsien dat dié boeke eendag in een bundel sal verskyn nie, en hoe die vertalers van die Bybel die dilemma (teenstrydighede) probeer verdoesel ter wille van Dawid se ‘geloofwaardigheid’.

Die spanning tussen Koning Saul en Dawid het met tye oorgeloop in openlike vyandigheid en was Dawid se dae geken deur vlug, veg, en vrees waarvan baie Psalms getuig. Een van die afgruwelikste dade word vertel waar Saul se dogter, Mikal, tot ergenis van haar pa, verlief was op Dawid. Hy laat weet Saul dat hy haar wil hê as vrou en Saul sê dat hy haar net kan kry as hy vir hom 100 voorhuide van Filistynse soldate bring met die hoop dat Dawid sal omkom in die proses. Hy maak 200 dood en bring hul voorhuide na Saul en eis sy ‘prys’ op en dan staan daar dat Saul kon sien “dat die Here by Dawid is” (huh?) Die suspisieuse omstandighede waarin Saul dood is, het die stamhoofde laat vermoed dat Dawid direk verantwoordelik was vir Saul se dood. Saul se seun Esh-Boset (beteken: man van skande) word koning en vir twee jaar sou hy koning wees van 11 van 12 stamme en Dawid net koning oor die Judastam. Hy sterf in ʼn sluipmoord (ook Dawid?) waarna Dawid koning word oor al 12 stamme maar nooit aanvaar is deur die 10 stamme in die noorde nie.

Dawid se geskiedenis is verweef in feitlik elke volk in en om die Israeliete. Onthou, sy oumagrootjie Rut was ʼn Moabitiese slawe meisie. Dawid se ryk het volgens die Bybel gestrek van Sirië in die Noorde, tot Moab en Ammon in die Ooste, die Filistyne in die Weste en Edom in die Suide. Om so groot koninkryk in stand te hou moes ʼn reuse administrasie geverg het — hoe is dit dan moontlik dat die argeoloë die laaste 100 jaar feitlik geen teken van so groot staatsdiens kon opspoor nie? Hoe is dit moontlik dat in die Kanaänitiese, Assiriese en Egiptiese geskiedskrywing, wat van als goed boekgehou het, geen sprake is van hierdie enorme Dawid dinastie nie? Of is dit moontlik dat die Dawidslegende oor die eeue ʼn mitologiese, larger-than-life figuur sou word wat ʼn inspirasie moes wees vir die kinders van Israel veral in die tyd van Ballingskap (nóg 500 jaar ná Dawid) toe die meeste van hierdie verhale vir die eerste keer skrif en papier gevind het? Dat daar ʼn apologetiese verweer is in die boeke van Samuel om enige argument of saak teen Dawid te weerlê, is ongetwyfeld. Byna soos ʼn regspan wat getuies se integriteit diskrediteer en feite op so manier te ryg dat almal later glo dat geel is eintlik pers.

Nou wat op dees aarde is daar te leer by die man wat niks doen met sy seun Amnon wat sy suster Tamar verkrag nie maar sy seun Absolom om die lewe laat bring net omdat hy vermoed het sy kroon is in gedrang? Om Dawid se verhaal te vertaal in ons eie tyd gaan ons Sondag stilstaan by dit wat gebeur het tussen hom en Batseba. Dawid staan op sy paleis se dak in die koel aandwind en onder sien hy ʼn jong meisie bad. Sy het ʼn Kanaänitiese naam, Bat-Shebah (beteken: dogter van die belofte), haar pa Eliam, van Kanaänitiese oorsprong en huursoldaat, was een van Dawid se 30 helde-offisiere en ʼn dapper kryger. Haar oupa, Agitopel uit ʼn vlugtelingdorp in die heuwels van Judea, dien op Dawid se ADVIESRAAD. Haar man Uriah is ʼn Hetiet en is een van die offisiere wat ʼn ARK-DRAER in Dawid se leër was. Hy kom uit ʼn ‘blou-bloed’ (Jebusiete) familie en was deel van Dawid se ELITE-lede in die weermag. Dawid het presies geweet wie is Bat-Shebah!

Ek wonder of sy gevlei gevoel het en of sy die koning sou teensit toe sy intensie duidelik geword het? Sy laat weet hom sy is swanger. Hy laat kom haar man van die oorlogsveld en maak hom dronk met die hoop dat hy by sy vrou sal slaap en dan sal dink dit is sy eie kind. Die Wet wat sê dat ʼn man wat by ʼn ander man se vrou lê moet gestenig word, geld oënskynlik nie vir Dawid nie en vergeet hy dat dieselfde wet sê dat ʼn man wat aan die ark geraak het mag vir ʼn week nie by sy vrou slaap nie. Toe hy die volgende dag hoor dat Uriah het op die trappe van die paleis geslaap, maak hy hom weer dronk en probeer ʼn tweede keer met sy slinkse planne. As niks werk nie laat hy hom vermoor. Die profeet Natan konfronteer Dawid en vertel ʼn verhaal van ʼn ryk man wat die arm man se ooilam slag om vir sy gaste kos te gee en vra dan hoe sou hy oordeel oor die ryk man? Dawid sê, sowaar as wat ek die koning is, daardie man moet om die lewe gebring word. Dan sê Natan, “JÝ is die man!” Dawid besef wat hy gedoen het, gaan na buite, skeur sy klere en gooi as op hom uit. In diep berou pleit hy om vergiffenis. Die seuntjie sterf kort na geboorte. ʼn Tweede kind word gebore met die naam Salomo (beteken: vredevol).

Wat ook al van en oor Dawid gesê kan word, een ding staan soos ʼn paal bo water dat ons hier te doen het met ʼn man wat ʼn merk gemaak het op die geskiedenis. Talentvol, dapper, slim, sterk, vernuftig, onverskrokke ... miskien geen voorbeeld van godsdienstigheid maar intens deurleef in sy spiritualiteit en verhouding met God. In 1563 is een van die Belydenisskrifte van die Protestantse geloof geformuleer. Sondag 1, Vraag 2 van die Heidelbergse Kategismus vra: Hoeveel dinge moet jy weet om salig te kan lewe en sterwe? Antwoord: Drie dinge (a) Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is; (b) ten tweede; hoe ek van my sonde en ellende verlos word; (c) en ten derde hoe ek in dankbaarheid moet lewe teenoor God.

ACIM verwys na ‘sonde’ as — sin is insanity, to keep yourself busy with sin is to live wholly insane! Kom ons blaai Sondag deur die verhaal van Dawid se geskiedenis om onsself daarin te (h)erken. Hoe dikwels dit gaan oor my (bietjies) sonde versus ander se (baie) sonde en hoe ons steeds, net soos in die tyd van Dawid ʼn sekere Godsbeeld formuleer om ons mensgemaakte agendas te pas. Hoe daar dinge in die naam van God gesanksioneer word wat net mooi NIKS te doen het met die God wat ons ken as ʼn God van liefde nie. Deur die ruit van Dawid se geskiedenis sien ons die Lig weerkaats waarin “ons onsself leer ken as held en as ʼn hond” (soos Stef Bos sing). Ons eerste gesprek hierdie jaar was oor Amadeus Mozart en teen die helfte van die jaar staan ons stil by Amadeus Dawid. Hulle het baie ingemeen waarvan ons kan leer ... kom ons skryf Sondag ʼn Psalm wat bogenoemde drie vrae beantwoord!

Daar is nie ACIM môreaand nie want ek is nog nie mobiel nie. Sal laat weet wanneer ek weer kan bestuur.

Besoek ons Facebook 

Gedagte vir die Week:
“David knew that all the question marks of his life were in the hand of God. He knew it was impossible to be in God's hand and in the enemy's hand at the same time. The gloom begins to disappear and fear departs as faith emerges in glorious triumph. This man is rising out of his testing and adversity to learn to put his utter dependence on the Lord.” ― Alan Redpath

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights