🌺 Ons wil weer ʼn Nuusblad uitgee in die Lente. Stuur asseblief — ʼn gedagte, ʼn ervaring, ʼn boodskap, iets mooi wat jy gelees het of wat ook al aan Marguerite vóór 15 September by marguerite.moody@gmail.com 😉
Ek moet sê, ek is oorweldig deur die reaksie van mense op my uitnodiging om jou ‘vrae’ na my te stuur. Dankie vir elkeen wat ek sover ontvang het. Ek gaan my bes probeer om soveel as moontlik daarvan die volgende maand te antwoord. Stuur gerus wat op jou hart is en saam gaan ons Sondae tot ʼn sinvolle antwoord kom wat nie in klip gegiet is nie maar wat soepel genoeg is om met tyd te groei en vrug te dra soos ons boom wat ons laas week geplant het.
Ons het Sondag afgeskop met vrae oor die dood, die lewe na die dood; wie de duiwel is die duiwel en waar de hel is die hel. Ons het gesels oor wat en waar hemel is en hoe ons daarvan deel is/word. In slotsom het ons gesê — oor ʼn ‘lewe’ na die dood, weet ons nie. Wat dit is en hoe dit sal wees, weet ons nie. Wat die Bybel ons leer daaroor is geweef in metaforiese en simbole taal wat ons Westerlinge glad nie verstaan nie en meer as dikwels misinterpreteer. My hart glo — LIFE IS ETERNAL, waarvan my lewe op Aarde net ʼn vlietende refleksie daarvan is. Gaan ek bewus wees dat ek gesterf het? Ek glo nie. Is daar ʼn ander dimensie van lewe/mindfulness/consciousness na ons liggame gesterf het? Ja, dit glo ek wel. Ewemin gaan daar eendag, “ʼn opstanding van die vlees” wees maar daar is beslis ʼn daaglikse wedergeboorte/wederkoms wat deurweek bewus is van ʼn totale eenheid met wat ons beskryf as die Goddelike ... en dít is hemel.
Kry ek ʼn opvolg briefie van ʼn ma wat vra, “Beteken dit dat ek nooit weer my afgestorwe kind gaan sien nie?”Soveel as wat ek volkome begrip en empatie het dat dié vooruitsig ʼn stukkie vertroosting bring en op ʼn kennelike manier die verlange en verdriet ligter maak, is ek daarvan oortuig dat wanneer ons sterf, verdamp al hierdie menslike behoeftes en begeertes en in watter dimensie ons ook al is na ons afsterwe, het al ons aardse emosies geen betekenis meer nie. Daar is ʼn volkome eenheid met elkeen wat ons aardse reis met ons deel en wanneer ons sterf, is daardie eenheid ʼn ligstraal waarvan nie een foton bewus is van ʼn foton wat van ʼn ander gedeelte in die heelal by ons aangesluit het nie. Vir my is hemel daardie oorsprong/bron van alle Lig en waar lig is, is Lewe. As ons glo in hierdie ‘Eenheid met God’ (soos Jesus dit bid in Johannes 17) dan is ons afgestorwenes so deel van ons aardse bewussyn soos God self deel is van ons elke oomblik se in- en uitasem. Ons mis hul lywe en woorde want ons is mens maar in gedagtes en aanvoeling is hulle om en in en by ons elke oomblik van ons reis terwyl ons nog hier is. Die hiernamaals het ʼn totale harmonie en balans sonder enige van ons aardse trauma. Laat jou trane die klei in jou hande vorm waaruit ons die engele skep van mooi herinneringe.
ʼn Paar eposse het vrae oor ‘vertroue’ en veral in situasies waar vertroue geskaad is. Een van die vrae is, “As jy jou beste gee altyd, reg lewe in beginsel, die regte voorbeeld stel, maar dit is net nooit genoeg nie. Hoe hanteer jy dit om nooit te voel jy vaal as mens en Christen nie?” Om hierdie vraag te antwoord gaan ons Sondag wéér, nog ʼn keer, andermaal na die bekende 1 Korintiërs 13 kyk oor wat Paulus skryf oor ‘vertroue’ en die drie pilare van geloof, hoop, en liefde.
Voorlopig net dit — ‘vertroue’ in ʼn spirituele konteks, het niks te doen met iemand anders en wat met my gebeur nie. Dit het wel alles te doen met ons vertroue in onsself en hoe ons daarop reageer. As ʼn mens getrou is aan jouself (authenticity) het ʼn mens vertroue in jouself en daarom in jou Self. Ons vertroue word geskend omdat ons met soveel behoeftes en verwagtinge deur die lewe gaan en wanneer iemand nie daardie behoeftes en verwagtinge vervul nie noem ons die teleurstelling, ʼn breek in vertroue. Eintlik is dit maar net my eie begeerte om goed (mens, dinge, situasies) te kan beheer. Wanneer ek my ‘beheer’ laat gaan, kan niks en niemand my vertroue skaad nie en wat meer is, is die feit dat omdat ek myself vertrou, kan ek vertrou word.
Die anderkant van die muntstuk is waar ons voel dat niks wat ons doen is goed of reg vir ʼn ander persoon nie, met ander woorde, dit voel of ons net nooit hul vertroue sal wen nie. Dit sê NIKS van jóú nie en het ALLES te doen met daardie persoon se issues (hul wonde en ‘need to control’). Verwyder jou uit die situasie waar jy moet verdedig en verduidelik. Maak dit duidelik dat jy nie meer deel is van daardie sirkel nie. JÝ bepaal die bedding van jou menswaardigheid en niemand kan jou laat ‘vaal’ as mens of Christen nie. Dis ons reaksie daarop wat ons in die ego-poel van wantroue dompel. Lig jou ken, trek jou skouers terug, maak jou rug reguit, sit beide voete op die grond, en sê vir jouself, “This is me, I know my truth, herein lies the peace of God!”
Wat my bring by die tweede vraag wat met bostaande verband hou: “In één jaar is ek verloof, getroud en ʼn weduwee. SO MOENIE MET MY PRAAT OOR ‘N GOD VAN LIEFDE NIE!!!” skree iemand op WhatsApp. ʼn Ander epos vra, “Jy sê dat God nie straf en met ons dood rekenskap vra nie, hoe verduidelik jy dit vir my dogter wat verkrag is?” Beide is ʼn kreet wat vra: Waar is God as dit seer is en hoekom stop Hy nie die lyding nie ... want as Hy kan maar nie wil nie is Hy boos, en as hy wil maar nie kan nie, is Hy magteloos!?
Met nederige beskeidenheid gee ek toe dat ek nog nie een van hierdie ervarings gehad het nie en daarom suutjies moet loop met ʼn antwoord. Wat ek wel geleer uit my eie seer is dat die meeste van dit wat ek ervaar as ‘seer’ word gebore uit ‘VREES’ — vrees dat die seer nooit gaan ophou nie; vrees dat êrens gaan iets breek; maar veral vrees omdat ek kwaad is ... en woede is “vrees verwoord” leer ACIM. Wat ek ook weet, is die feit dat ʼn mens gewoonlik kwaad is vir twee redes: (i) kwaad vir iets wat jy wil hê en nie het nie en (ii) kwaad omdat jy iets het wat jy nie wil hê nie. Die laaste ding wat ek oor die jare moes erken, is dié waarheid (ook uit ACIM) dat alle emosionele pyn is as gevolg van ʼn skuldgevoel. Met ‘skuldgevoel’ word NIE bedoel ‘skuldig’ nie maar die guilt wat ons dra oor mislukking, teleurstelling, verlies, spyt en selfverwyt dat ek dit anders moes doen; daar moes wees om te help; iets verkeerd gedoen het daarom gebeur dit; ontnugter en magteloos voel omdat ek nie met die pyn kan omgaan nie.
Soos ons ons gedagtes skuif van vrees na liefde, skuif ons letterlik na 'n plek waar 'n Goddelike vrede ervaar word — 'n verandering in gedagtes (change of mind) na die siel-denke van liefde en harmonie waar ons ons gedagtes en gevoel oopmaak vir ʼn nuwe, ander reaksie (emosie). Omdat ons ons denke verander, kan ons die effek wat dié denke veroorsaak het, verander. My vertoue in God hang van niks af nie. Dit is nie blootgestel in die wêreldse norme oor wat vertroue is nie. Niks en niemand kan dit skaad nie.
Kom ons praat Sondag oor VERTROUE en saam verken ons die pad deur die woestyn van ons emosionele pyn en vrese vir verwerping tot ons by die oase kom van wat die groot Shalom (vrede) werklik beteken en hoe ons dit vir onsself kan toeëien.
🌺 ACIM — Kolping: 14 September @ 19h30 en Stad: 18 September @ 19h30 — Lessons 41-48 (Lees asseblief hierdie 8 lesse voor die tyd)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
"He who does not trust enough will not be trusted." — Lao Tzu
Liturgie: 10_september_2017 (1)