Hierdie week se liturgie: 1_julie_2012
ʼn Koue goeiemore,
Na die reën van gister en die koue van die laaste week, gaan ʼn mens se hart uit na derduisende op die Kaapse Vlakte wie se enigste besittings onder water is en waar dit snerpend koud moet wees snags. Ek en seun bondel ou truie wat nie gedra word, handdoeke wat nie gebruik word en ʼn strepieskombers wat nie op ʼn bed is nie saam om by St George Cathedral te gaan afgee want hulle (saam met baie ander organisasies) is op sulke koue dae en aande op die grond in die Vlakte om mense te help. (As jy warm-goed het, gaan gee dit by jou naaste Katolieke of Anglikaanse Kerk af. Hulle weet wat om daarmee te doen)
Ons settle maklik vir ʼn gebed, “Ons dink aan hulle wat vanaand koud en nat moet gaan slaap” en ek wonder wie trek vannag ʼn warmkombers oor hulle want uit die hemel reën dit? Ek het nog nooit gehoor dat ons vir ‘iemand anders’ wat ons verwag moet dit doen, bid nie. Dit laat my wonder oor gebed. Wat sê ons as ons bid? Wat verwag ons van die Een tot wie ons bid want soms is die inhoud van gebed, soos die meeste intensies, bloot retoriek. ʼn Sentimentele herhaling (vorm) sonder om verantwoordelikheid te vat. Die vraag is nie “wat is ‘die wil van God’” nie maar “hoekom doen ons nie wat ons vra nie?”
My oupa het eenkeer vir my pa gesê nadat dit (in ou taal) 3 duim in een dag gereën het: “die Here seën ons nou morsdood!” Êrens bid iemand vir reën, en êrens anders bid iemand dat dit moet ophou reën – en wat wil ons hê moet ‘onse liewe Heer’ doen? Natuurlik sal die fundamentaliste sê: “God kan alles en God kan alles gelyk. Dit kan op dieselfde plek reën en ophou reën terselfdertyd.” God is afterall Almagtig, Alwetend, Alomteenwoordig.
As God dit alles kan (én selfs meer) waarom dan die histerie oor ʼn Lady Gaaaagaaaa wat Suid Afrika toe kom of die reaksie oor ʼn kort komediant met ʼn groot ego? Is God ʼn mens wat aanstoot neem? Waarom doen God NIKS of net IETS aan die nat koue plakkershuise op die Kaapse Vlakte nie en as God niks dááraan kan doen nie, hoe op aarde gaan God enige iets kan doen vir my wat eintlik niks het om oor te kla nie? Is God ʼn superman, ʼn super-power wat alles moet fix?
Wat sê dit van die god in ons koppe wat KAN maar nie wil nie, of WIL maar nie kan nie?
Kom ons verken Sondag die volgende waarheid: God is geen mens nie. Niks of niemand kan God minder óf meer maak nie. God is ʼn teenwoordigheid (presence) wat ons voel en ervaar --
Almagtig, Alwetend, Alomteenwoordig
• God is: doing good beautifully
• God is: loving love exquisitely
• God is: living life divinely
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum — Besoek ons WEBBLAD: www.neo-spektrum.com vir meer inligting.
As jy saam my wonder oor al die vrae wat ons het, kom gesels Sondag saam in ʼn oopgesprek
Ons het Saterdag 21 Julie 2012 by die Kolping Sentrum weer ʼn gesprek oor ‘Die Geskiedenis van die Bybel’ — en begin na die vakansie weer met ACIM. Kontak my asseblief as jy belangstel.
Gedagte vir die Week:
Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers (én susters) van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen. (Matteus 25:40)