1 Januarie 2017

Liturgie: 1_januarie_2017

David Bowie, Prince, Leonard Cohen, George Michael ... net vier van die baie name in die musiekindustrie wat ons dié jaar verloor het. Name waarmee ons grootgeword het, wie se musiek ons goed ken. Name wat ʼn hele generasie se musikale talent verteenwoordig het. Is daar iemand wat nie in die 80s ook ʼn T-hemp gehad het met die woorde ‘CHOOSE LIFE’ soos die een wat George Michael aangehad het in die musiekvideo ‘Wake me up before you go-go’ nie ...? Aaaah, en Cohen se lirieke waarin hy keurig sy gedigte ʼn melodie gee. Die eenvoud waarmee hy kon skryf. Die raakvat van menslike emosies met net ʼn paar woorde. As ek na sy lirieke luister, dink ek altyd aan die woorde van Mary Oliver wat gesê het, “Poetry is a life-cherishing force. For poems are not words, after all, but fires for the cold, ropes let down to the lost, something as necessary as bread in the pockets of the hungry.”

Digters en gedigte het min betekenis in die pragmatiese, liniêre wêreld waarin ons leef. Alles moet verklaar, vertaal, verduidelik, vereenvoudig wees anders blaai mense om na iets wat meer ‘exciting’ is ... ons wil entertain word, ons wil nie moet dink nie. Veral nie vir onsself nie. Solank daar hysbakke, roltrappe, afstandbeheer, wifi, en Google is, het ons nie nodig om ons harsings te skud nie. Die moderne samelewing het nie tyd om die sensuele taal van storievertellers te ontsyfer nie, en omdat gedigte-taal nie sin maak vir die rasionele gedagtes en control-freaks nie, word dit eenkant geskuif as onbelangrik en niksseggend. Ons los dit vir die romantiese, airy-fairy, regterbrein sigeuners. Minwetende dat die digkuns bestaan het lank voor skryf en lees hul plek gevind het in beskawings. Historici is dit eens dat die oudste gedigte is opgesê en gesing — van een generasie na ʼn ander deur die leermeesters, priesters, profete, wysgere, en shamans om ʼn volk/stam te help onthou wat hul geskiedenis, stambome, en wette is. Feitlik al die oeroue gedigte was dan ook gesing. Historiese gebeure, liefdesverklarings, tradisies en instruksies vir elke dag se gewoontes en rituele is gesing en die inhoud was gegiet in poësie.

Met die ontdekking van Enheduanna se gedigte wat dateer uit 2300BC is daar ʼn verstommende ontdekking gemaak — eerstens dat sy die oudste digteres en priesteres was wat ons van weet, wat geleef het in die Sumeriese landstreek Ur bykans 800 jaar voor Abraham waar hy ook vandaan gekom het. Die 42 liedere/gebede/gedigte wat ontdek en vertaal en opgedra is aan die godin Inanna is die oudste spore van ʼn sistematiese teologie wat ons ken. In die Ooste sou digters (± 1700BC) se komposisies, vorm en inhoud gee aan die Vedas en Upanishads wat die betekenis en rituele van die Hindu tradisie sou laat behoue bly vir alle eeue.

Die Joodse geskiedenis het sy eie tradisie van die digkuns wat hul plek gevind het in die Heilige boeke. Vir die volgende vyf Sondae van Januarie gaan ons onder die tema — CHOOSE LIFE — na die volgende 5 poëtiese boeke kyk en ʼn landkaart verken vir ons reis in 2017.

  1. Die Boek van Job: Seëninge deur Lyding. [God se verhouding met ons]
  2. Die Psalms: Lofprysing deur Gebed. [Ons verhouding met God]
  3. Hooglied: Liefde deur Eenheid. [Die passie van ʼn jongman/vrou]
  4. Die Spreuke: Verstandigheid deur Lering. [Die insig van ʼn middeljarige]
  5. Prediker: Waarheid deur Nietigheid. [Nadenke van ʼn bejaarde]

Die vraag in poësie is nie of jy die regte woorde ken nie ...? Nog minder wat die woorde beteken nie? Die vraag is — hoe sê mens die on-sê-bare; hoe verwoord jy ʼn asemteug; hoe klink die murmurering van die hart? Want sien, digters deur al die eeue is manne en vroue wat die siel vertaal in verstaanbare taal, iets wat onthou kan word, iets wat gevoel kan word. Wat hul gee is iets waarmee ons vandag kan vergelyk as ons sê, jy ontvang ʼn ZIP-file van die engele wat gestoor word tot jy later reg en ontvanklik is om dit te unZip en daai vonk in die hout te sit waar ons verleer het hoe om vuur te maak. Gedigte help ons onthou ... en wat ons onthou, is die inhoud en betekenis van lewe in die algemeen en my lewe spesifiek en dié Lewe in besonder.

Meer as dikwels sal die digter sê, “Ek weet self nie wat en hoe ek doen nie ... but here we go!” The Great Soul of the World, wou iets sê en dit het die ore van die digter se hart gevind en die oë van sy/haar intuïsie en al wat hul moes doen, was om die pen op te neem en die sterre te teken in vokale en konsonante. Hul weet gewoonlik nie eers dat hul die spreukbuis is van Iets wat tot uitdrukking wou kom in mensetaal, vir mense, oor mense, wat soek en (soms) vind na die ekstase van ʼn Lewe wat alle lewe insluit nie.

“The art of living is to fall in love with life over and over again. It is no easy thing to walk through the world with an open heart, embracing everything, and also stand true, allowing no poison to infect us. But be cracked open often. Pour yourself into life withholding nothing. Heal and be healed. This is the way of living in full.” — skryf Jacob Nordby in sy fantastiese boek, ‘Blessed Are The Weird’ — hierin is die boek Job meer relevant as ooit van te vore omdat hierdie poëtiese meesterstuk 90% van ons sielsvrae beantwoord.

Mag ons almal in 2017 dié voorneme hê om voluit te leef ... in uitbundige ekstase, met vreugde in ons oë as ons na die Ooste kyk vir elke sonsopkoms en met geestesvervoering na die Weste as ons die dag groet sodat ons die beste van elke dag tussen die sterre kan hengel. Mag ons drome vervul word deur ons hande en voete wat die klei sal vorm uit die grond onder ons voete en mag ons engele skep uit die klei om hul vry te laat vir almal vir wie ons lief en elkeen wat vir ons lief is.

Ons eerste dag van die nuwe jaar val op die eerste dag van volgende week. Dit sal wonderlik wees as ons komende Sondag, net soos laas Sondag, moet stoele indra vir elkeen wat die nuwe jaar wil opdra aan dié God van Liefde, Lig, en Lewe.

🌺 ACIM — Hervat weer na die somervakansie.

Besoek ons Facebook ​​​​​

Gedagte vir die Week:
“I am a hole in the flute through which the Christ’s breath moves. Listen to this music.” ― Hafez

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights